Angus Buchan

Ek lees in die koerante hoe gelowiges (ek praat nie eers van ongelowiges nie!) verskil oor oom Angus Buchan se bediening.  Sommige sê die Here gebruik hom om Suid-Afrika “reg te ruk”, maar ander sê “sy teologie is gevaarlik”.  Hoe moet ek daaroor dink?

Antwoord:

Die belangrikste “toets” vir ‘n bediening is natuurlik veranderde lewens en mense wat hulle roeping uitleef waar die Here hulle geplaas het.  Gelowiges wat skepties is oor oom Angus se bediening, kan immers nie hierdie “bottomline” ignoreer nie:  derduisende mense (veral mans) het deur hierdie bediening ‘n nuwe of eerste toewyding aan die Here gemaak en begin leef as instrumente in die Here se hand in hulle gesinne, beroepe en in ons pragtige land met al sy uitdagings.  Mens wil amper nie meer as net dit sê nie.  Maar jy vra ook hoekom sommige gelowiges dit gevaarlike teologie noem.  Wel, die kontroversiële sake is:

1.      Die beklemtoning van tradisionele rolle in die huwelik en gesin, waaronder die persepsie wat kan ontstaan dat hy sê vroue moet eintlik nie beroepe beoefen nie, maar moet by die huis bly en die kinders grootmaak, terwyl die man die “brood op die tafel” moet sit.  Dit word deur sommige gelowiges as chauvinisties beleef.  Uitsprake soos dat die man die “priester van die huis” is, en dat die vrou aan die man onderdanig moet wees, steek vir sommiges dwars in die krop.  Die beklemtoning van dissipline in die huishouding, waaronder die gebruik van lyfstraf, is ook vir sommige gelowiges omstrede.

2.      Die lees van die Bybel as ‘n baie letterlike boek, wat volgens sommige gelowiges nie genoeg aandag gee aan die verskillende literatuursoorte in die Bybel asook die konteks van sekere Skrifgedeeltes nie, en ook volgens hulle ‘n baie selektiewe lees van die Bybel is.  Juis die “onderdanigheidsvers” is ‘n voorbeeld hiervan.

3.      Die byna “meganiese” werking van gebed, veral dan gebed vir goeie oeste, vir reën, vir genesing.  Sommiges sê dit is problematies omdat God ook soms “nee” of “wag” op gebed kan antwoord.  Hulle voel dit skep ongeregverdigde skuldkomplekse by mense en die gevoel dat hulle geloof nie goed genoeg is nie, indien hulle gebed nie hierdie “effek” het nie.

Die joernalis Neels Jackson het op sy blog van 8 Mei 2009 ‘n bydrae geskryf, wat ek gedink het ‘n baie gebalanseerde siening is.  Lees dit gerus:

Ek verstom my soms aan die polemieke wat om iemand soos Angus Buchan kan losbars. Wat sê ‘n mens te midde van al die sterk en uiteenlopende stemme wat luidkeels opklink, oor dié man?

Voordat ek my eie perspektief op die saak gee, net eers iets oor die raamwerk waaruit ek my opmerkings maak.

Daar is ‘n klomp mense wat Angus afskiet eenvoudig omdat hulle die Christendom, geloof en godsdiens in die algemeen afgeskryf het. Ek deel nie daardie raamwerk nie. Ek gaan uit van die siening dat godsdiens ‘n goeie ding is wat op goeie maniere beoefen moet word.

Daarby het ek oor die jare geleer dat die Christendom in baie verskillende vorms kom. Dis soos ‘n groot lappieskombers met ‘n klomp verskillende kleure. Elke groep, elke stroom, elke tradisie en elke denominasie verteenwoordig ‘n ander lappie in dié groot kombers. Dikwels hang dit saam met verskillende spiritualiteite en verskillende persoonlikhede.

My indruk is nie dat daar een regte manier is om Christen te wees en dat al die ander maniere dan verkeerd is nie. Dis eerder dat elke groep, elke lappie in die kombers, sy eie sterk en swak punte het – en dit help as ‘n Christen sy of haar plek in die groter geheel ken en besef wat is die sterk en swakpunte van sy of haar tradisie.

Wat betref Angus en die soort Christendom wat ‘n mens by hom kry, beteken dit dat ‘n mens hom ook nie kan beoordeel met ‘n eenvoudige “ja, hy is reg” of “nee, hy is verkeerd” nie. Dit beteken voorts dat ‘n mens by hom ook sterk en swak punte sou kon onderskei.

Ek dink Angus Buchan pas in die evangeliese tradisie wat die boodskap van bekering en verlossing met sterk oortuiging verkondig. Verder dink ek dat hy in sy styl sterk aansluit by die charismatiese tradisie in die land.

Een van sy kenmerke is die eenvoud van sy boodskap. Ek sou die kern van sy verkondiging soos volg kon opsom: Bely jou sonde voor God en vra Hom om vergifnis. Weet dan dat Hy jou vergewe en dat jy sy kind is. Lewe daarvolgens. Leef in ‘n verhouding met Hom. Lees jou Bybel daagliks en bestee tyd saam met God. Weet dat dit nie beteken al jou probleme sal tot ‘n einde kom nie, maar wel dat Hy by jou sal wees en jou daardeur sal dra. In die lig van jou nuwe verhouding met God, maak jou verhoudinge met die mense om jou reg. Mans moet hul vroue om verskoning gaan vra omdat hulle hul vroue nie goed behandel het nie en hulle respekteer. Hulle moet hul verhoudings met hul kinders bou, maar hulle ook op die regte pad hou deur hulle te dissiplineer. In hul werksituasies moet hulle ook uit hul geloof leef. Vertrou enersyds dat God jou sal lei en help, maar leef andersyds onwrikbaar eerlik en met respek vir ander mense, ook teenoor jou werkers. Vra hulle om verskoning as jy hulle te na gekom het. Weet bowenal dat God wonderwerke kan doen en dat jy Hom in elke moeilike situasie kan vertrou om jou daardeur te bring.

Ek dink die eenvoud van Buchan se bediening is ‘n groot rede vir sy sukses en gewildheid. Hy maak dit nie moeilik om ‘n Christen te wees nie. In ‘n tyd van ingewikkelde teologiese debatte, voel gewone mense hy bring hulle weer by die basiese goed van Christenskap uit.

Daarby dink ek dat Buchan se nederigheid, sy opregtheid (waaraan ek nie twyfel nie) en die deurleefdheid van sy boodskap bydra tot die sukses van sy boodskap. Hy bring sy boodskap in vertellings van wat hy self beleef het. Behalwe dat verhale op sigself goed kommunikeer, is daar ‘n egtheid aan sy stories wat sy gehore oortuig. Dit gaan oor regte geloof in die regte wêreld.

Waar lê die swak punte van Buchan se bediening dan?

Ek dink die eenvoud van Buchan se boodskap is nie net ‘n sterk punt nie. Dis ook ‘n potensiële swak punt. Hoe eenvoudiger ‘n mens se boodskap is, hoe makliker kommunikeer dit, maar hoe minder nuanses kan jy daarby inbou. En die lewe en sy vraagstukke is soms ingewikkeld, sodat eenvoudige antwoorde nie altyd help nie.

Die ironie is dat meer genuanseerde teologie gewoonlik moeiliker kommunikeer en dat dit nie maklik die massas bereik nie.

In die breë Christendom dink ek nie ‘n mens moet kies tussen eenvoudige teologie soos Buchan s’n en ingewikkelde teologie om komplekse vraagstukke te behandel nie. Ek dink ons het albei nodig en dat hulle mekaar moet aanvul. Daarom is daar ‘n belangrike plek binne die Christendom vir Buchan se teologie, maar ‘n mens moet ook weet dat die Christendom groter is as net sy boodskap.

Angus word dikwels verkwalik vir sy boodskap aan mans dat hulle die hoof van hul huise moet wees. Self verkies ek ook om ander geloofstaal te gebruik as ek oor die huwelik praat.

Ek dink egter dis onbillik om Buchan se boodskap voor te hou as een van verdrukkende patriargie. Bloot op grond van wat ek sien en hoor, is my indruk dat baie mans wat na Buchan luister, beter huwelike het as gevolg daarvan. Hulle leer om hul vroue weer met respek en liefde te behandel – en ek hoor vroue ook daaroor getuig.

Nog meer onbillik is dit om Buchan as ‘n soort geldwolf voor te hou. Ek het in my loopbaan as kerksake-verslaggewer al genoeg evangeliste met goue ringe, blink horlosies en groot motors gesien om te weet wanneer dit vir iemand oor geld gaan. Angus Buchan pas eenvoudig nie in daardie prentjie nie.

As ek voorbehoude oor Buchan se teologie moet uitspreek, sou dit vir my oor twee goed gaan.

Die eerste hou verband met Buchan se sterk klem op skuldbelydenis en bekering. Dis inderdaad ‘n boodskap wat elkeen moet hoor om ‘n Christen te kan word. Ek dink egter daar kom ‘n punt in ‘n mens se geloof dat jy die vergifnis en verlossing moet aanvaar en moet aanbeweeg.

Die gevaar van ‘n oorbeklemtoning van skuldbelydenis en bekering is dat dit ‘n mens se sekerheid ondermyn. Dis asof jy elke keer van voor af gered moet word, asof jy nooit seker kan wees van jou verlossing nie.

Dat daar klaarblyklik ‘n klomp mans by Angus se byeenkomste is wat daardie boodskap van bekering en verlossing nodig het, is so. Maar ek wonder soms of daar nie ok ‘n klomp mans is wat oor en oor tot bekering kom en nooit verder vorder op die geloofspad nie.

Die tweede kwessie van Angus se bediening waaroor ek wonder is die kwessie van genesing.

Nou moet ek eerstens sê dat ek nie dink dis ‘n sentrale deel van sy bediening nie. Die gebed vir siekes kom telkens so as ‘n nagedagte nadat hy klaar gepreek het. Dis ook nie asof hy ‘n skouspel daarvan maak deur byvoorbeeld siekes na vore te roep en hulle dramaties te “genees’ nie. Hy bid eenvoudig vir mense in die gehoor met allerlei kwale en sê soms iets oor die getuienisse wat hy kry oor antwoorde op sulke gebede.

Gebed om genesing bly egter een van die baie moeilike kwessies in die Christelike geloof.

Aan die een kant is dit ‘n deel van die Christelike tradisie dat Jesus mense genees het en dat sy volgelinge dit ook gedoen het. Aan die ander kant is daar so ‘n lang geskiedenis van wanpraktyke in die naam van genesing dat ek kan verstaan dat mense skepties raak.

Dat mense soms onverklaarbaar gesond word nadat daar gebid is, betwyfel ek nie. Ek het al genoeg getuienisse gehoor wat vir my oortuigend was. Opvallend vir my was dit nooit gevalle wat gepaard gegaan het met trompetgeskal nie. Dit was eerder kere waar mense saggies, half verstom, vertel het wat met hulle gebeur het. Asof hulle self sukkel om dit te glo.

Maar hoe hanteer ‘n mens die kwessie teologies? Ek het tot die gevolgtrekking gekom die een konsep wat jy nooit mag laat vaar as jy hieroor dink of praat nie, is die soewereiniteit van God. Hy besluit wie hy wil genees en hoe hy dit wil doen. Hy laat Hom nie in ‘n formule indruk soos “As jy glo, sal jy gesond word” nie. Die voor die hand liggende Bybelse voorbeeld van iemand wat nie genees is nie, is die apostel Paulus wat skryf van die “doring in sy vlees” waarmee hy moet saamleef.

Ek was verlede jaar op verskeie byeenkomste waar Buchan vir mense gebid het, maar vanjaar was die eerste keer dat ek hom hoor sê het dat die gebed verhoor sál word. Dit was by die Daniël-konferensie in Pretoria waar hy vir ‘n klomp jong mans gebid het wat gesukkel het om saam met hul vrouens ‘n baba te hê. Ná die gebed het hy hulle verseker hulle sal kinders hê.

As ek hom reg gehoor het by vanjaar se Mighty Men, het hy ook ‘n direkte verband getrek tussen ‘n mens se geloof en die beantwoording van die gebed.

Ek sou graag met hom hieroor wou gesels, want uiteindelik is dit God wat besluit of iemand kan kinders hê en of iemand gesond word of nie. En ek dink ‘n mens moet ook ‘n boodskap hê aan diegene wat nie gesond word nie of wat na al die gebede nie kinders het nie.

Met hierdie kritiek skiet ek Buchan nie af nie. Dis vir my baie duidelik dat hy vir verskriklik baie mense ontsettend veel beteken. Ek dink Buchan het ‘n goeie invloed op baie mense, al verskil my eie spiritualiteit van syne en van baie van sy aanhangers s’n. Maar ek dink ook dat ons ook ‘n oog moet hê vir moontlike gevare sodat ons mekaar kan help om dit te vermy.