Doop

Hier op Stellenbosch is daar nogal groot gevegte rondom die verskil tussen grootdoop en kleindoop.  Hoekom doop ons babas en hoe verstaan ons die grootdoop?

Inleiding
Van die grootste gevegte tussen Christene gaan oor die doop, en dit is bitter hartseer.  Moet ons klein doop of moet ons groot doop, moet ons besprinkel of moet ons onderdompel.  Dit is egter totaal onnodig want, en dit is baie baie belangrik, dit gaan volgens ons verstaan van die doop nie oor iets wat ons doen nie, maar oor God se liefde vir sondaar mense.

Dit gaan dus oor wat God doen.
Deur die geskiedenis was daar nie regtig ‘n geveg tussen die kinderdoop of grootdoop nie, want daar is omtrent nie ‘n kerk in die wêreld wat nie die grootdoop erken nie.  Die probleem is eerder dat baie kerke, en dit ook nogal somtyds baie aggressief, die kinderdoop aanval en sê maar dit is verkeerd.

Sommer van die begin af wil ek sê dat die hele doop teologie nie so ‘n eenvoudige saak is nie en op die diepste vlak lê die vraag rondom die doop op die vlak van – watse verhouding is daar tussen die Ou Testament (OT) en die Nuwe Testament (NT).  Tussen die OT en die NT verloop daar 430 jaar.

Oorvereenvoudig sê die voorstaanders van die groot doop dat die OT afgehandel is en dat Jesus alles kom nuut maak het en dat die NT eintlik al testament is wat nog geldig is.

Die mense wat die kinderdoop voorstaan sê weer daar is ‘n bepaalde kontinuïteit en ook diskontinuïteit tussen die twee testamente.

1. Die kinderdoop
Die beste om die kinderdoop te verduidelik is aan die hand van die volgende skets.

Nommer 1: 
Genesis 15:7-12; 17-18

  • Die Here het vir Abram gesê: “Ek is die Here wat jou uit Ur van die Galdeërs laat wegtrek het om hierdie land aan jou te gee as jou besitting.” Maar Abram vra: “Hoe sal ek weet dat ek dit sal besit, Here my God?” Toe beveel die Here hom: “Bring vir My ‘n vers, ‘n bok en ‘n skaapram, almal drie jaar oud, en ‘n tortelduif en ‘n jong duif.” 10 Abram het dit alles vir die Here gebring en dit middeldeur gesny. Hy het elke helfte teenoor die ander helfte neergesit. Die voëls het hy nie verdeel nie. 11 Die roofvoëls het op die karkasse begin toesak, maar Abram het hulle weggejaag. 12 Teen sononder het ‘n diep slaap Abram oorval; angs, ‘n groot donkerte het hom oorweldig.
  • 17 Toe die son ondergegaan het en dit donker was, gaan daar skielik ‘n oond wat rook en ‘n fakkel wat brand, tussen die stukke vleis deur. 18Op daardie dag het die Here ‘n verbond gesluit met Abram en vir hom gesê: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land.

Genesis 17:6-12; 24-27:

  • Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige. Lewe naby My en wees opreg! “Ek bring ‘n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ‘n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag. Verder het God vir Abraham gesê: “Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle nageslagte.10 Dit is my verbond wat moet geld vir jou en jou nageslag: elke lid van die manlike geslag onder julle moet besny word. 11 Julle moet besny word aan die voorhuid. Dit is die verbondsteken tussen My en julle: 12 elke seun onder julle van ag dae oud moet besny word.
  • 24 Abraham was nege en negentig toe hy besny is, 25 en sy seun Ismael dertien. 26 Abraham en Ismael is op presies dieselfde dag besny.27 Al die mans in Abraham se huis, die slawe wat in sy besit gebore is, en dié wat hy van vreemdes gekoop het, is saam met hom besny.

Ons sien hier dat dit God se werk is – dit is God se inisiatief.  Dit is Hy wat deur die stukke vleis stap en die verbond (kontrak, ooreenkoms) met Abraham sluit.  Die hele storie van deur die vleis loop was die manier hoe mense destyds ooreenkomste met mekaar aangegaan het.  God laat vir Abraham slaap omdat Hy net geweet het Abraham sou nie die ooreenkoms van die verbond kon nakom as God hom nie daarmee sou help nie.

Nommer 2:
In die Ou Testament moes bloed vloei as mense sonde gedoen het en daarom moes hulle diere offer.  Dit was dus ‘n wat verpligtend was voor die kruisdood van Jesus.

Nommer 3:
God wou hê Sy volk moes ‘n teken dra dat hulle anders is as ander mense.  Hulle is Sy volk.  Dit is amper soos ‘n boer wat sy skape merk met sy brand teken of ‘n knip in die oor.  Almal wat die skaap sien het geweet maar dit is daai spesifieke boer se skaap.  So wou God hê moes Sy kinders ook uitgeken kon word.  Die teken wat Hy aan die mense gegee het was die besnydenis.  Die besnydenis is waar die voorhuid van die manlike penis afgesny is op agt dae ouderdom.

Nommer 4:
Hierdie verbond word met Abraham en sy nageslag gesluit.  God is so wonderlik in Sy liefde dat hy selfs vir babatjies van so klein as 8 dae insluit by al die voorregte van die verbond.

Nommer 5:
Wat sê die verbond?  Wat behels die ooreenkoms?  God sê vir ons: “Ek sal jou God wees en julle moet my volk wees”.

Van die begin af was die besnydenis egter nie net ‘n volksding nie, maar het dit ook ‘n geestelike betekenis (vgl Jos 5:2-9):

  • Daar word ook gepraat van die besnydenis van die hart (Lev 26:41; duet 10:16; 30:6; Jer 4:4; 9:25-26; Eseg 44:7 en 9).
  • Of van onbesnede lippe (Eks 6:11 en 29).
  • Of van onbesnede ore (Jer 6:10).

Nommer 6:

In die Nuwe Testament wil God nog steeds hê Sy kinders moet gemerk word.  Maar nou is dit nie meer nodig dat bloed moet vloei, of dat ons meer diere hoef te offer nie, want Jesus (die Lam van God) sterf aan die kruis (word as’t ware geslag en geoffer vir al ons sonde).

Nommer 7:

Omdat bloed nie meer nodig is nie, het God besluit ons moet dit nou met water doen.  Soos water mens skoon maak as jy vuil is, so maak (was) Jesus ons skoon van ons sonde (vuilheid).  Tekste soos Kol 2:11-12, die hele gesprek in Handelinge 15 en ook Matteus 28:19 gee vir ons ‘n aanduiding dat die doop nou die besnydenis vervang het.  Ons sê in die teologie die TEKEN het verander.

Nommer 8:

Die BETEKENIS bly egter dieselfde – nog steeds sê God vir ons Hy sal vir ons ‘n God wees en ons moet vir Hom ‘n volk wees – ons moet leef soos Hy van ons vra.

  • Handelinge 2:37-39: 37 By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” 38 Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. 39 Wat God belowe het, is (1) vir julle en (2) vir julle kinders en (3) vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.

DIE TEKEN HET VERANDER,

MAAR NIE DIE BETEKENIS NIE.

Ons erken wel ook die grootdoop.  Ons praat van die verbond doop (klein doop) en die sending doop (grootdoop).  Onder verbond doop verstaan ons dan kinders wat in die verbond omgewing groot word, wat geleer word dat hulle God sin is.  Hulle word gedoop omdat die ouers die verbond erken en vir God lief het.  By die sending doop verstaan ons dan mense wat buite die verbond leef en groot word.  Wanneer hulle dan van Jesus leer en tot bekering kom word hulle gedoop.

2. Besware teen die kinderdoop

2.1  Jesus is dan groot gedoop? 
Ons moet vir Jesus volg en daarom moet ons ook groot gedoop word.  Dit is nie so eenvoudig nie, want as ons Jesus moet navolg moet ons ook onthou dat Hy ‘n Jood was, dat Hy besny was volgens Lukas 2:27, dat Hy sonder sonde was, dat Hy gekruisig is en ook nie besittings gehad het nie.  Moet ons Hom ook hierin navolg of net in die doop?  Om Jesus te volg beteken om heilig te leef en beteken nie net bloot na-apery nie.  Maar nog belangriker is die vraag: Met watter doop is Jesus gedoop?  Met die doop van Johannes die Doper.  Die interessante is dat die mense wat deur Johannes gedoop is, is almal later weer deur Paulus oorgedoop (Handeling 19:1-6).  Hoekom word hulle oorgedoop?  Want Johannes het nie in die naam van Jesus gedoop nie (vgl Matt 28:19; hand 2:38 en 10:48 ens).  Die doop van Jesus moet ons dus anders verstaan.  Jesus word gedoop om daar deur aan ons te toon dat Hy sonder sonde is, en ook vir ons sal help om die beloftes en die eise van God se verbond na te kom.  Jesus se doop is die bevestiging dat Hy die verwagte Messias is.

Nog ‘n interessante waarneming is dat al Jesus se dissipels besny was, en ons lees nêrens dat Hy hulle oordoop nie – hoekom nie?  Skynbaar was Jesus tevrede met hulle besnydenis.  Het Jesus egter enige mense gedoop?  Hier loop die standpunte uiteen want lees mens Johannes 3:22-26 dan lyk dit so, maar lees mens Johannes 4:1-3 dan lyk dit weer asof Hy niemand gedoop het nie.  Skynbaar was die doop nie vir Jesus so ‘n groot saak soos ons dit vandag maak nie.  Belangriker vir Jesus was of jy tot bekering gekom het.  Hy vra nie vir die moordenaar aan die kruis of hy wel groot of klein gedoop of besny is nie.  Hy gee eenvoudig aan hom die belofte: “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees”.  Dieselfde gebeur met elke persoon waarmee Hy praat.  Hy maak gesond, vergewe, raas selfs, maar nêrens sê Hy dat die doop ‘n voorwaarde is vir redding nie.  Dit maak weereens die geveg tussen kerke so geweldig hartseer.  Die ryk jong man vra vir Jesus: “Wat moet ek doen om in die koninkryk te kom?”  “Gaan doop jou en volg my!”  Nee – “Gaan en verkop alles en volg My”.

2.2  Daar is dan geen teks in die Bybel wat sê mens moet kinders doop nie? 
Daar is eenmaal ‘n pamflet versprei deur kerkgenootskappe wat teen die kinderdoop is met die titel van: Wat die Bybel oor die kinderdoop sê.  Binne in die pamflet het egter niks gestaan nie.  Die bladsye was heeltemal skoon.  En hulle is ook reg – daar staan geen direkte teks wat sê julle moet kinders doop nie.  Maar en dit is belangrik, daar staan nêrens in die Bybel enige verwysing hoe gemeente kinders gedoop moet word nie.  Kerke wat die groot doop voorstaan as die regte manier van doop maak die afleiding dat gemeente kinders op dieselfde manier gedoop moet word as die heidene.  Ons moet dus aan mekaar erken dat ons, en die kerke wat net groot doop, al twee afleidings uit die Bybel maak om ons eie standpunte te regverdig.  Maar dit hoef ons glad nie bang te maak dat ons dalk dwaal nie, want ons maak ook afleidings rondom die Sondag en die Sabbat, en ook die Drie Eenheid van die Here – almal is tog belangrike sake, maar daar is nie direkte tekste vir die sake nie.  Ons kan die HG vertrou dat Hy ons in die waarheid sal lei.

Met dit nou gesê lyk dit tog vir ons asof daar wel aanduidings in die NT is waar die insluiting van die kinders by die doop voortgegaan het.  Daar is, lyk dit vir ons, tog sprake van gesinsdope.  Alhoewel dit nie seker is dat daar babas in hierdie gesinne was nie, is dit opvallend dat die terminologie wat gebruik word – dat iemand en sy/haar gesin gedoop word, sterk herinner aan die insluiting van die kinders in die OT.  Die tekste waar dit staan is onder andere – Handeling 10:47; 11:14; 16:15 vers 33; 18:8 en ook 1 Kor 1:16.

2.3  Moet mens nie eers glo voor jy gedoop kan word nie?
‘n Ander algemene argument teen die kinderdoop is dat die NT vereis dat mense eers moet glo voor hulle gedoop word.  Omdat babas nie kan glo nie, so word dan gesê, kan hulle ook nie gedoop word nie.  Ons het reeds gesê dat die betekenis van die verbond nie verander het nie, al het die teken verander – Abraham glo, maar klein Isak glo glad nie, maar word tog besny.  Ons sê dus as kerk dat ons glo dat geloof verseker ‘n rol speel by die doop handeling.  As die ouers glo, word die kind deel van die verbond, al glo hulle nie – maar hulle word voortdurend opgeroep om wel te glo.  As die ouers nie glo nie, word die vereiste gestel dat die persone of persoon wat gedoop gaan word eers moet glo, en dan gedoop word.  Die opdrag van God in Matteus 28 word volgens ons beskou, as ‘n opdrag wat ons moet toepas op diegene wat God nog nie ken nie.  God stuur sy volk na mense wat nie glo nie en hulle moet geleer word, en dan gedoop word.

Groot doop kerke het die volgorde omgedraai: (1) Maak dissipels, (2) doop hulle en (3) leer hulle.  Die volgorde is nou: (1) Maak dissipels, (3) leer hulle en (2) doop hulle.  Die vroeë kerk het net een voorwaarde gehad vir die doop en dit is geloof in JX.

2.4  Dogtertjies is dan nie besny nie?
Die vierde argument is dat dogtertjies nie besny is nie, en daarom kan ons nie die doop en die besnydenis gelyk stel nie.  Ons moet egter onthou dat die vrou in die OT beskou is as deel van die man en dus nie apart hanteer hoef te word nie.  Sy word aanvanklik maar net as ‘n besitting beskou, maar in die NT word sy totaal anders geoordeel – neem maar net Paulus se uitspraak in Galasiërs 3:28 dat dit nie saak maak of iemand man of vrou slaaf of vry is nie, almal is in Christus gelyk.

3. Daar word ook baie baklei oor hoe ons moet doop?  Moet ons onderdompel of moet ons besprinkel
Daar is ook baie kritiek en gevegte onder kerke oor die metode van doop.  Ook hier moet gewaak word teen ‘n misverstand.  Net soos die argument nie gaan oor ‘n keuse tussen groot en klein doop nie, maar net oor die vraag of die kinderdoop reg is, so gaan dit ook nie hier oor ‘n stryd tussen onderdompeling of besprinkeling nie, maar net oor die vraag of die besprinkeling reg is.  Daar is na my wete geen kerk wat die onderdompeling as doop metode verwerp nie, maar daar is kerke wat die metode van besprinkeling verwerp.  Die meeste kerke wat die kinderdoop erken aanvaar onderdompeling en besprinkeling as doop metodes.  Ons ook.

Die metode van doop word nooit in die NT bespreek nie.  Dit is daarom jammer dat sekere kerke van die metode van die doop ‘n kwessie maak deur die besprinkeling te verwerp en aan te dring op onderdompeling.  Hierdie kerke is egter daarvan oortuig dat hierdie doop metode baie duidelik in die NT geleer word.

3.1 Onderdompeling
Hulle baseer hulle standpunt op die volgende drie gronde:

3.1.1  Mense beweer dat die Griekse woord vir doop onderdompeling beteken.  Die argument gaan egter nie op nie, aangesien daar genoeg voorbeelde in die NT is waar dit nie die geval is nie.  Dink maar aan 1 Kor 10:2, Markus 10:38 en Heb 9:10 waar ‘n reinigingsgebruik in die OT doop genoem word en ons weet dat die reiniging plaas gevind het deur besprinkeling.  Die as van ‘n offerdier is in rein water gegooi, onder rein water word dan verstaan lopende water, en dan is ‘n hisop takkie in die mengsel gedruk en op die mense gespat, of gesprinkel.  Die Griekse woord vir onderdompeling “kata-du-ein” kom glad nie in die Bybel voor nie.

3.1.2  Volgens die groepe dui die gebeurtenis in Hand 8:38-39 duidelik daarop dat die doop deur onderdompeling plaas gevind het.  Dit is die verhaal van die Etiopiër wat deur Filippus gedoop word, en dan lees ons dat albei in die water ingegaan het, en dat hulle albei uit die water uitgekom het.  Ons sê dit dui nie daarop dat die doop deur onderdompeling plaasgevind het nie, want daar staan tog duidelik dat albei in die water in en uit gegaan het, dan moet dit mos beteken dat die Etiopiër en Filippus albei onderdompel is.  Dit dui eerder daarop dat al twee in die water in gegaan het, en dat hulle halflyf gestaan het en dat Filippus water oor die Etiopiër se kop gegooi of dan gesprinkel het.  Die teks wil slegs beskryf wat gebeur het.  Sulke tekste is nie opdragte nie.  Petrus bid byvoorbeeld op die dakstoep (Hand 10:9) maar dit sê mos nie ons moet nou ook almal op die dakstoep gaan bid nie.

In party tekste word na die doop verwys as dat mens bad of was – 1 Kor 6:11, Tit 3:5 en Heb 10:22.  Hiervolgens maak hulle dan die afleiding dat ons moet onderdompel.  Om te bad of te was beteken tog nie dat mens onder die water ingaan nie.  Dit beteken eerder dat mens in die water sit en dan water oor jou sprinkel.  Die woord wat vir was gebruik word is dieselfde woord wat gebruik word wanneer ons ons gesig was (Matteus 6:17) of om iemand se wonde skoon te was (Hand 16:33) en dit dui tog nie op onderdompeling nie.

In Johannes 3:23 staan daar dat Johannes by Enon gedoop het “waar daar baie water was” en dit lyk maar daar het ons dit, mens het baie water nodig gehad vir onderdompeling.  Weereens is dit nie ‘n bewys vir onderdompeling nie.  Dit kan alleen ‘n bewys vir onderdompeling wees as mens van die standpunt uitgaan dat besprinkeling met min water gedoen word.

3.1.3  ‘n Baie sterk argument is dat Jesus in die graf ingegaan het en toe opgestaan het, en dat die doop ‘n simbool hiervan moet wees.  Mens moet in die water ingaan om simbolies te wys dat jy sterf aan jou sonde en dan moet jy uit die water opkom om te sê jy staan nou op in ‘n nuwe lewe.  Ook die standpunt dra nie water nie, want Jesus is tog nie in ‘n vertikale gat begrawe nie en Hy het ook nie vertikaal opgestaan nie.  Hy is in ‘n grot – horisontaal begrawe en het opgestaan deur uit die graf te loop.  Nêrens in die Bybel word gesê dat die doop simbool moet wees van die begrafnis en opstanding van Jesus nie.

3.2  Besprinkeling:
Daar is egter baie voorbeelde en motiverings wat ons laat sê dat dit tog vir ons lyk asof die vroeëre kerk wel gedoop het deur besprinkeling.

3.2.1.  Minstens twee keer in die NT lees ons van plekke waar daar na besprinkeling verwys word wat moeilik op iets anders dui as op die doop – die tekste is Heb 10:22 en 1 Petrus 1:2.  Die teks in Hebreërs verwys na die reiniging wat in die OT in die tempel plaasgevind het, en hierdie reiniging het plaasgevind deur besprinkeling.  Direk nadat Johannes die Doper by Enon gedoop het ontstaan daar ‘n gesprek oor die reinigingsgebruike, wat ons nou weet deur besprinkeling plaasgevind het.  Daar is skynbaar net een sinvolle verklaring vir die vreemde verband: Johannes se doop moes aan die reiniging van die OT herinner het.  En dit kan net beteken dat Johannes deur besprinkeling gedoop het.

3.2.2.  Nog ‘n motivering vir die doop deur besprinkeling is toe die 3000 bekeerlinge op Pinksterdag gedoop is.  Daar was destyds net een groot waterbron waar hierdie deel van Jerusalem sy drinkwater gekry het.  Die stadsbestuur sou sekerlik nie toestemming gegee het om 3000 mense daarin te onderdompel nie.  Ook die tronkbewaarder en sy huismense se doop kon beswaarlik deur onderdompeling geskied het.  Dit vind plaas in die middel van die nag en in die tronk – Hand 16:32-34.  Van baddens in ‘n tronk wat groot genoeg was vir onderdompeling was daar nie eens sprake nie.

3.2.3.  Argeologiese navorsing oor die doopvonte in die vroeëre geskiedenis van die kerk laat mens vermoed dat die dopelinge tydens die doopbediening binne-in die doopvont in die water gestaan het, en dat die water dan oor hulle kop en skouers gesprinkel of gegiet is.  Vroeë doopbakke was oor die algemeen te vlak en te kort dat die dopeling heeltemal onder die water kon verdwyn.

3.2.4.  Die Griekse woord vir doop “bap-ti-zo” beteken altyd gedeeltelike onderdompeling.  Soos byv. in Lukas 16:24 – vinger gedeeltelik in die water gedruk of in Joh 13:26 waar brood in die sous gedruk word, en in Handelinge waar ons lees dat mense met die HG gedoop is.  Dit dui tog nie op onderdompeling nie, maar op die feit dat die tonge vuur op hulle koppe was.

Wat moet ons nou alles sê oor die metode van doop?

  • In die NT is die metode van die doop onbelangrik. Daar kan dus geen rede wees waarom ons vandag juis een van die bestaande metodes moet vereis nie – al is dit waar dat besprinkeling ‘n eeue oue reinigings tradisie in die Bybel is.
  • Trouens daar kan selfs geen beswaar wees dat sekere Christene onderdompeling verkies omdat hulle daarin ‘n simbool wil sien van die einde van hul ou sondige lewe en die begin van hulle lewe in Christus nie. Hulle moet net nie sê dit kom uit die Bybel en dit vir alle Christene verpligtend wil maak nie.

Samevatting

Baie belangrik:
By die doop gaan dit nie oor die mens nie, maar oor God.

Dit gaan in die doop ook nie oor die metode of oor die groot of die klein nie, maar oor God wat as Vader ‘n verbond met sy kinders sluit en vir hulle belowe: Ek sal vir julle ‘n God wees, en vir Sy kinders vra dat ons vir Hom sal lewe.

As jy groot of klein gedoop is, onderdompel is of besprinkel is, en jy leef nie soos God vra nie – is jy besig met sonde in die oë van die Here.  Hy roep ons almal, ja gedoop of nie – om ons te bekeer en te leef soos Hy vra.

Die doop maak ons nie heilig nie.

Jesus Christus maak ons heilig!!