Heilige Gees

Heilige Gees 2013-03-10T11:49:21+00:00

Hoe ontvang ek die Heilige Gees?

“Het jy al die Heilige Gees ontvang” is ‘n vraag wat dikwels vir Christene onnodig laat skrik en selfs laat twyfel aan hulle verhouding met God. Die rede daarvoor is dat die vraag meesal gevra word deur Christene wat uit ‘n Charismatiese agtergrond kom en wat beweer dat jy na jou bekering ‘n tweede ervaring moet hê wanneer jy “die Gees ontvang” en eers dan “het” jy regtig die Heilige Gees. Dikwels word hierdie tweede ervaring dan die “doop met die Gees” genoem en word beweer dat die bewys dat dit regtig gebeur het, is dat jy [meesal tydelik] in ‘n vreemde taal kan praat of kan bid.

Dit is onnodig dat Christene deur hierdie vraag verwar word.

Die doop met die Heilige Gees

q  Die term “doop met die Heilige Gees” verwys in die Bybel altyd na Johannes se voorspelling van wat Jesus sal kom doen, nl dat Hy die gawe van die Heilige Gees aan sy kerk sal kom gee.  [Vgl Mark 1:8, Matt 3:11, Luk 3:16, Joh 1:33 ens]

q  Hierdie voorspelling is op Pinksterdag vervul toe die Heilige Gees uitgestort is en God sy kerk met die Heilige Gees gedoop het. [ Vgl Jesus se eie verwysing hierna in Hand 1:5 ]

q  Die gebeurtenisse in Hand 8:14-17, Hand 10:44-47 en Hand 19:1-7 is deel van die uitvoering van hierdie verlossingsplan van God en kan nie gebruik word as Skrifbewys daarvoor dat alle Christene na hulle bekering ‘n tweede ervaring van die “doop met die Gees” moet hê nie.

q  Dit is juis belangrik dat ‘n mens die boek Handelinge heilshistories moet lees en nie heilsordelik nie. Dit beteken: Handelinge beskrywe die historiese verloop van God se verlossingsplan in die wêreld na Jesus se hemelvaart en na die uitstorting van die Heilige Gees. Die boek Handelinge moenie gelees word as ‘n beskrywing van presies hoe die “verlossingsproses” in elke gelowige se lewe moet verloop nie – asof alles wat daar met gelowiges gebeur het presies net so ook vir alle tye met alle Christene moet gebeur nie.

q  Daarom lees ‘n mens nêrens in die briewe van Paulus van iemand wat so “met die Gees gedoop” is nie en word daar ook geen opdrag aan gelowiges gegee om dit te soek nie.

q  Die Nuwe Testament ken nie so iets dat Christene by ‘n latere geleentheid, nadat hulle tot geloof en bekering gekom het, met die Gees gedoop word en dat hulle dan eers toegang het tot die volheid van die Heilige Gees het nie.

q  In 1 Kor.12:3 sê Paulus immers duidelik dat niemand kan sê Christus is die Here [maw ‘n Christen kan wees] sonder die Heilige Gees nie. Dat ek ‘n kind van God is en Jesus as Verlosser aanvaar het is juis omdat die Heilige Gees reeds in my lewe gewerk het en my oortuig het van Jesus se verlossing vir my.

q  En in 1 Kor 6:19 sê hy vir die Christene dat hulle juis moet besef dat die Heilige Gees in hulle lewens woon – en dit moet hulle aanspoor om al meer onder beheer van die Gees te lewe. [En hy sê dit nogal vir Christene wat allermins op ‘n spesiale “vlak” van geestelikheid was; daar was immers baie verkeerde dinge in hulle lewe waaroor hy in die brief aan hulle skrywe.]

q  Wat Christene wel moet doen, is om hulle met die Gees te laat “vervul” [vgl Ef 5:18]  Dit verwys daarna dat die Heilige Gees al meer konkrete beheer in my lewe as gelowige moet kry en dus al meer my “gedrag moet bepaal” [Gal 5:16, 25]. Dit is nie iets wat eensklaps of met een ervaring gebeur nie. Dit is ‘n lewenslange groeiproses, die proses van heiligmaking. Daarom is die betekenis van tydsvorm van die werkwoord “vervul” in die oorspronklike teks van Ef 5:18 om jou “voortdurend weer te laat vervul”. Daarom gaan dit nie daaroor dat ek meer van die Gees moet kry nie – die Gees moet “meer van my kry”; moet meer beheer oor my lewe kry!

Waaroor dit wel gaan

q  Die kernvraag wanneer ons nadink oor die werk van die Heilige Gees is dus die vraag na die werklike beheer en konkrete invloed wat die Heilige Gees in my lewe as kind van God het. [Daarom is die regte vraag om as Christen te vra nie “Hoe ontvang ek die Gees nie?”, maar “Hoe leef ek al meer onder beheer van die Gees?”]

q  Dat God sy Gees in al sy volheid reeds aan sy kerk en aan elke gelowige gegee het, beteken nie dat ek ook in die volheid van die Gees lewe nie, maw dat die Gees al meer my “gedrag bepaal”, soos Paulus dit in Gal 5:25 noem. Juis daarin moet ek groei.

q  Die verskille oor hoe hierdie groeiproses moet verloop mag nie veroorsaak dat ons die saak self mis nie, nl dát daar groei en vordering moet wees; dát daar ‘n opregte soeke na meer van die krag en blydskap en vrug van die Gees in ons lewens moet wees. [Vgl ook Ef 3:14-21]

q  Iemand stel dit so: die Heilige Gees moenie ‘n “doctrine” vir my wees nie, maar die “dynamic” in my lewe! Die krag van die Heilige Gees moenie maar net ‘n teorie in my lewe wees nie; dit moet ‘n praktiese werklikheid wees.

q  Ons kan as Christene baie by mekaar leer ten opsigte van hoe die Here hierdie pad met elkeen van ons loop. Maar ons mag nooit ons eie pad en ons eie ervaring met die Here  “standaardiseer” – asof elke Christen dit presies so moet ervaar nie. Die Here loop deur sy Gees met elkeen van ons ‘n eie pad. Die belangrike vraag is net: is die Here deur sy Gees regtig met my op pad? Is daar groei en vordering? Lewe ek al meer deur die Gees? Maak die Gees al meer ‘n praktiese verskil aan my lewe?