Sabbat

Sabbat 2013-03-10T12:00:26+00:00

VRAAG: Waarom vier ons as Christene nie meer die Sabbat nie, maar wel die Sondag? En wat is die betekenis daarvan om Sondag te vier ?

Elke land het sy vryheidsdag, sy Independence Day. In Suid-Afrika is dit 27 April, die dag van die eerste demokratiese verkiesing. Amerika se Independence Day is op die 4de Julie.

Die sabbat was Israel se Freedom Day of  Vryheidsdag. Daarom sê Deuteronomium 5:15: “Jy moet op dié dag daaraan dink dat jy in Egipte ‘n slaaf was, wat die Here jou God deur sy krag bevry het. Daarom het het die Here jou beveel om dié dag te onderhou.”Op die Sabbatdag moes hulle die bevryding uit Egipte vier, dat die Here hulle uit slawerny gered het en dat hulle nou die nuwe volk van die Here geword het. Die Fariseërs het dit glad nie verstaan nie. Hulle het daarvan ‘n dag van wette gemaak – van moets en moenies. Daarom het hulle die betekenis van die dag gemis. Daarom het Jesus gesê [Mark 2:23-28]:  Die mens is nie vir die sabbat gemaak nie. Dit is nie asof daar ‘n sabbat was en nou het die Here mense gesoek om dié dag te onderhou met ‘n klomp moets en moenies nie. Die dag is vir die mense gemaak. Dié dag moet jou help om al hoe meer die soort mens te wees wat God bedoel het jy kán wees as bevryde mens. Dis die doel van die dag.

Vir ons as Christene is dit nog meer ‘n vieringsdag en ‘n vryheidsdag – want Jesus het ons volkome van die sonde verlos. Dis wat ons vier. Die Sabbat as dag wys in die Ou Testament vooruit na die finale bevryding van die sonde deur Jesus. Daarom is die dag in Jesus se kruis en opstanding vervul. Die eerste Christene het dit reg verstaan toe hulle begin het om die eerste dag te vier. Die sabbat was die sewende dag van die week. Hulle het begin om die eerste dag te vier – die dag van die opstanding. Jesus het opgestaan op die eerste dag. Hulle het begin om dit te vier omdat hulle besef het dit is die eintlike bevryding wat ons moet vier. En hulle het dit gedoen lank voor daar iets was soos Sondag as ‘n publieke vakansiedag. Sondag as ‘n publieke vakansiedag kom maar uit die vierde eeu toe Konstantyn die Grote in beheer gekom het. Lank voor dit het die Christene van die eerste eeue vroeg die oggend voor werk, of die aand na werk, bymekaargekom om erediens te hou en hul vryheid as kinders van die Here te vier.

Daarom steek ons by elke erediens ‘n Christus-kers aan – ‘n opstandingskers. Daarom lui die klokke, die Paasfeesklokke, die opstandings­klokke. Elke Sondag se eredienste wil ons herinner dat die opstanding van Jesus die belangrikste is wat oor jou lewe en oor die wêreld gesê kan word. As jy as ‘n Christen na die wêreld kyk en na die wêreldgeskiedenis en die samelewing, dan moet jy sê dat die belangrikste ding in die wêreldgeskiedenis is die opstan­ding van Jesus. Dit het alles verander. Dit het die wêreld op ‘n nuwe koers geplaas. Die belangrikste ding in jou lewe is die opstanding van Jesus. Dit herdefinieer jou lewe. Dis die bril waardeur ek en jy moet kyk na ons lewe, na die samelewing, met sy misdaad en geweld, na ons eie lewe en ons probleme. Die belangrikste bril waardeur ek na my omstandighede moet kyk is die opstanding.

  • Die bekende teoloog Karl Barth is in 1939 genooi om lesings in Skotland te gaan hou. Die nasies is in onrus, net voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Toe sê Barth: “Die belangrikste oomblik in die geskiedenis van die wêreld vind plaas wanneer die gemeentes van die Here saamkom om die lewende God te aanbid.” Het jy al in jou lewe so iets gehoor? Die belangrikste oomblik in die geskiedenis van die wêreld vind elke keer plaas wanneer die gemeentes van die Here saamkom om die lewende God te aanbid, want dit het die potensiaal, elke keer, om die hele wêreld te verander. Aangrypend! Die opstanding definieer alles.
  • In Texas vier hulle ‘n dag wat genoem word “June teenth,” die 19de Junie. Hulle vier die boodskap van die bevryding van die slawe. En dan, skryf iemand, moet jy asseblief nie verwag van ‘n African American en van baie ander mense om by die werk op te daag nie. Hy kan nie anders as om daardie dag te vier nie, want daardie dag het sy hele menswees geherdefinieer. Jy kan mos nou dink: van ‘n slaaf, ‘n ding, tot ‘n mens! Jy kan dit mos nie van ‘n mens wegneem om dit te vier nie. Sy hele bestaan is deur daardie een daad, daardie een Proklamasie geherdefinieer.

Dit is wat Sondag vir Christene is. Daar is niks wat jou en my menswees so herdefinieer soos die opstanding van Jesus Christus nie. Niks. Die opstanding van Jesus Christus, sê Paulus, beteken dat ons nou nuwe skeppings is. Dit beteken ons kan nou die soort mense word wat God ons bedoel het om te wees. Niks kan belangriker as dit wees nie. En as jy dit verstaan, is daar nie ‘n manier dat jy dit nie sal vier nie. Jy sal daaraan dink elke Son­dag – hoe jy al beter kan verstaan hoe God jou lewe moet herdefinieer.

Daarom is die tweede groot betekenis van die Sondag vir ons dat dit ‘n “Herrangskikkingsdag” is – die dag waarop dinge in my lewe elke keer weer her-rangskik moet word In die Sabbat, skryf iemand, het dit nie gegaan oor blote “time off” nie, maar oor “redeeming the time,” om die tyd te verlos. “Reclaiming time as God’s time.”. “Reclaiming time as God’s time.”  En daarom, “reclaiming your life as God’s life.” Dis fantas­ties. ‘n Mens moet rus. Daarom is daar baie motiveringe ook in die Bybel vir die sabbat as rusdag. Dit word ongelukkig te veel beklemtoon as dit oor die sabbat en Sondag gaan. Natuurlik moet daar ritme in jou lewe wees van werk en rus, anders gaan jy fisiek-emosioneel breek. So, God wil ook hierdie ritme in jou lewe hê dat jy fisiek-emosioneel kan heel word. Maar dit gaan veral daaroor dat jy heel gemaak kan word as God se mens. Dis wat die Sondag elke keer wil doen. Dis wat die erediens elke keer wil doen. Dit wil jou en my help om heel te word en heel te bly as God se mense. Dit wil God deurlopend die geleentheid gee om my tyd te heilig. Om my lewensritme te hersien. Om my gebruik van my tyd aan te pas, sodat ek met my hele lewe en in hierdie week wat kom volgens God se ritme en God se prioriteite te kan leef.

Die skaarsste kommoditeit, die skaarsste artikel in meeste moderne Westerlinge se lewens vandag is tyd. Ons is obsessief oor besig wees, oor produktief wees. Ons vertel graag vir mekaar hoe besig ons is. Is dit nie waansinnig nie? Maar dis waar. Die ouens moet dink ek is ‘n verskriklike besige ou, anders dink hulle minder van my. Dis verstommend hoe ons mekaar probeer beïndruk met hoe besig ons is. Daarom sal mense baiekeer vir jou vra, as jy een of ander verdienstelike saak onder hulle aandag bring. “Man, ek sal vir jou geld gee, maar wat ek nie vir jou kan gee nie, is tyd.” En ons sien die effek daarvan op ons huwelike, op ons gesinne. Ons sien die effek in mense se eensaamheid. Ons sien die effek daaraan dat ons al hoe meer individualisties lewe. Is dit ons lot? Is dit ons noodlot? Is ons uitgelewer daaraan ook as Christene? Is dit die een nuwe afgod waarvan ons nie kan wegkom nie, as moderne mense, wat ons lewens teen wil en dank sal beheer.

Die vierde gebod nooi vir ons om as verloste kinders van die Here gereeld Sondag te vier. Spesifiek om in die erediens sy verlossing te kom vier, sodat God gereeld kans kry om my tyd te verlos. Om my tyd te orden. Om my lewe te herrangskik. Dat God gereeld kans het in my lewe. “to redeem my time. to reclaim my time as God’s time.” En om dan in God se tyd, volgens God se ritme, uit God se bevryding in hierdie week te gaan lewe. “In God’s time.” Voor God in die volgende gebooie jou en my huwelik kan heilig en ons arbeidslewe en ons gemeenskapslewe, moet Hy eers ons tyd verlos en heilig.