Tale

Vraag: Moet ‘n mens in tale kan praat om te bewys dat jy die Gees het

Antwoorde:

1.     Dit sal goed wees as jy eers die antwoord op vraag 3 [Wat is die gawes van die Gees?] lees voordat jy hierdie paar opmerkings lees.

2.     Een van die belangrikste dinge wat ‘n mens dus oor die gawes van die Gees in die Bybel moet hoor, is dat van geen gawe gesê kan word dat dit ‘n vereiste is dat alle [toegewyde!] Christene hierdie gawe moet hê nie. Daaroor skrywe Paulus glashelder duidelik. Lees die hele 1 Kor 12. Hy herhaal dit oor en oor. Leef ook Rom 12:4-8.

3.     Dit geld natuurlik ook die gawe van spreek in tale. Duideliker as in 1 Kor 12:27 – 30 kan dit seker nie gesê word nie. As die Here vir ‘n mens die “gawe van tale” gee, dan ontvang jy dit uit sy hand en gebruik dit tot sy eer. In 1 Kor 14 skryf Paulus uitvoerig daaroor dat die gawe van tale nie in ‘n gemeente verwarring en verdeeldheid moet veroorsaak nie, maar dat Christene dit op die regte manier moet gebruik.

4.     Waarom dit tog vir baie Christene ‘n vraag is of alle Christene in ‘n taal moet kan praat, is omdat sommige Charismatiese kerke langs ‘n ander weg tog ‘n sekere soort “in tale praat” as vereiste stel. Dit sou die bewys wees daarvoor dat jy as kind van God regtig die “doop met die Heilige Gees” ontvang het. Dit is jammer dat hierdeur soveel onnodige verwarring veroorsaak word, want die Bybel

  • ken nie so iets soos ‘n doop met die Gees as spesifieke ervaring na jou bekering wat beteken dat jy as Christen dan eers die volheid van die Gees ontvang nie
  • net so min dat die sg bewys daarvan dan is dat jy in ‘n taal kan bid

5.     Hierdie verkeerde siening lei soms tot onsekerheid by lidmate in ander kerke en veroorsaak dat hulle onnodiglik hul eie geloof en toewyding aan die Here begin bevraagteken. Veral omdat die indruk geskep word dat hierdie sg “doop met die Heilige Gees” jou laat oorbeweeg na ‘n ander “vlak” van Christenskap en gemeenskap met die Here – en dat jy sonder hierdie spesiale ervaring nie op daardie “vlak” [sic!]  kan kom nie.

6.     Daar is geen Bybelse gronde vir hierdie siening van die doop met die Heilige Gees as ‘n noodsaaklike [tweede] ervaring wat in elke [ware, toegewyde] Christen se lewe moet plaasvind nie.

q  Die term “doop met die Heilige Gees” verwys in die Bybel altyd na Johannes se voorspelling van wat Jesus sal kom doen, nl dat Hy die gawe van die Heilige Gees aan sy kerk sal kom gee.  [Vgl Mark 1:8, Matt 3:11, Luk 3:16, Joh 1:33 ens]

q  Hierdie voorspelling is op Pinksterdag vervul toe die Heilige Gees uitgestort is en God sy kerk met die Heilige Gees gedoop het. [ Vgl Jesus se eie verwysing hierna in Hand 1:5 ]

q  Die gebeurtenisse in Hand 8:14-17, Hand 10:44-47 en Hand 19:1-7 is deel van die uitvoering van hierdie verlossingsplan van God [dat God deur Jesus die volheid van sy Gees aan die kerk gee] en kan nie gebruik word as Skrifbewys daarvoor dat alle Christene na hulle bekering ‘n tweede ervaring van die “doop met die Gees” moet hê nie.

q  Dit is juis belangrik dat ‘n mens die boek Handelinge heilshistories moet lees en nie heilsordelik nie. Dit beteken: Handelinge beskrywe die historiese verloop van God se verlossingsplan in die wêreld na Jesus se hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees. Die boek Handelinge moenie gelees word as ‘n beskrywing van presies hoe die “verlossingsproses” in elke gelowige se lewe moet verloop nie – asof alles wat daar met gelowiges gebeur het presies net so ook vir alle tye met alle Christene moet gebeur nie..

q  Daarom lees ‘n mens nêrens in die briewe van Paulus van iemand wat so “met die Gees gedoop” is nie en word daar ook geen opdrag aan gelowiges gegee om dit te soek nie.

q  Die Nuwe Testament ken nie so iets dat Christene by ‘n latere geleentheid, nadat hulle tot geloof en bekering gekom het, met die Gees gedoop word en dat hulle dan eers toegang het tot die volheid van die Heilige Gees het nie.

q  Christene word wel opgeroep om hulle met die Gees te laat “vervul” [bv Ef 5:18 – die tydsvorm van die werkwoord “vervul” in die oorspronklike teks = voortdurend weer te laat vervul], maar dit verwys [soos Gal 5:16] na deurlopende groei in die konkrete beheer wat die Gees al meer in my lewe as gelowige moet kry. En daarin moet ek as Christen inderdaad groei. Dít is nie opsioneel nie!

7.     Natuurlik is dit so dat kan Christene soms spesifieke en besondere ervarings met God en met die Heilige Gees kan hê.

q  ‘n Mens se verhouding met die Here het natuurlik ook ‘n duidelike ervaringskant. Seker alle Christene sal kan getuig van spesifieke baie spesiale ervarings met God en van God se teenwoordigheid wat hulle in hulle lewe gehad het en dat dit vir hulle baie beteken.

q  Dit is verder uit die Bybel duidelik dat ons as Christene moet begeer dat al meer van God se heiligheid deel van ons lewens sal wees.

q  Wat in die lig van hoe die Bybel hieroor praat egter verkeerd is, is om so ‘n ervaring dan die doop met die Gees te noem; om dit voor te hou as iets wat elke Christen so moet ervaar; om dit voor te hou as iets wat jou op ‘n hoër geestelike “vlak” plaas; en om te beweer dat die bewys daarvan is dat jy dan die gawe van spreek in tale [tydelik] ontvang.

8.     En wat tov al die gawes van die Gees en my Christenskap oor die algemeen altyd in gedagte gehou moet word, is dat die eintlike toets of ek die Here se wil leef, liefde is. Ook al “praat ek die tale van engele”, al preek ek hoe wonderlik ens, sê Paulus in 1 Kor 13:1-7: as dit nie saamgaan met ‘n lewe van liefde, diensbaarheid, onselfsugtigheid, nederigheid ens nie, dan beteken dit niks. Die eintlike toets vir Christenskap is nie praat nie, maar doen.