Genesis

Genesis 2013-02-28T19:34:23+00:00

Vraag:

Wat kan ons vanuit die Bybel oor die skepping glo?  Het God in sewe dae van 24 uur geskep of is die evolusie-teorie reg?

Antwoorde:

Hierdie is ‘n baie groter vraag as wat dit op die oog af mag lyk.  Die rede is dat die vraag nie beantwoord kan word sonder om ook twee ander vrae in gedagte te hou nie, naamlik (a) “Wat is die verhouding tussen geloof en wetenskap?” en (b) “Hoe moet ‘n mens die Bybel lees?”  So kom ons begin deur net eers kortliks opmerkings oor hierdie twee vrae te maak en dan terug te kom na (c) die vraag oor Genesis en evolusie.

a)      Geloof en wetenskap is nie teenoorgesteldes nie.  Dis nie die een óf die ander nie.  Dis die een én die ander!  Dis miskien die eenvoudigste om dit só te stel:  Wetenskap gaan oor die hóé van die skepping (of dan die natuur).  Dit gee deur die wetenskaplike metodes van hipoteses, teorieë en toetsing vir ons insig in “hoe dinge werk”.  [Ons weet bv deur die wetenskap dat weerlig nie die straf van die gode is wat deur mense kwaadgemaak is nie, maar elektriese ladings.  Omdat ons weet hoe weerlig werk, kon die wetenskap daarom ook vir ons dinge soos weerligafleiers gee om onsself mee te beskerm en hoef ons nie offers te bring omdat ons dink ons die gode daarmee hoef te paai sodat hulle ons nie met weerlig sal neervel nie.]

Geloof vra ander vrae.  Nie “hoe werk die natuur” nie, maar “wat is die sin van alles”.  Geloof vra die “hoekom” (of beter gestel, die “waartoe”) vraag en nie die “hoe” of die “wat” vraag nie.  “Hoekom is daar iets en nie niks nie?”, “Wat is die sin van die lewe?”, “Wie is God?” – ja, dis die vrae van die geloof!  Verstaan ons dit so, is geloof en wetenskap dan ook nie opponente nie, maar goeie vennote!

b)      So wat is die Bybel?  Wel, in die lig van wat ons in (a) hierbo gesê het, weet ons wat die Bybel NIE is nie.  Dit is byvoorbeeld NIE ‘n wetenskaphandboek nie.  Ook nie ‘n geskiedenishandboek nie, al word daar ook na geskiedkundige gebeurtenisse verwys.  Wat mense dikwels nie besef nie, is dat die Bybel eintlik ‘n biblioteek van 66 boeke is, geskryf deur ongeveer 40 skrywers (wat ook 40 groepe skrywers kon wees), en dat die Bybel soos ons dit vandag ken oor ‘n periode van ongeveer 1500 jaar tot stand gekom het.  In die Bybel is daar vertellinge met ‘n historiese basis, maar daar is ook baie ander literatuursoorte (genres) soos gedigte, wysheidsliteratuur, wette, briewe, liedere, profesieë, ensovoorts.  Die punt, so sal enige letterkundige ook vir jou kan sê, is dat ‘n mens elke literatuursoort sal lees vir wat dit is.  Ek moet byvoorbeeld ‘n gedig soos ‘n gedig lees en nie soos wetenskap nie.  [Toe DJ Opperman geskryf het “My nooi is in ‘n nartjie, my ouma in kaneel” het hy immers nie bedoel dat ‘n mens in ‘n nartjieskil pas of in ‘n bakkie kaneelsuiker gaan sit het nie!]

Watter dele van die Bybel in watter genre geskryf is, dáároor kan mens gesels en selfs verskil.  Maar om alle dele van die Bybel op presies dieselfde manier te wil lees, is gewoon om die Bybel geweld aan te doen en disrespekvol teenoor die Bybel op te tree.

Die feit dat die Bybel deur mense oor ‘n periode van 1500 jaar geskryf is en nie deur ‘n stem uit die hemel aan een skrywer gedikteer is, wat dit maar net neergeskryf het sonder om self daaroor te dink nie, is nie ‘n probleem nie.  Dit beteken nie dat die Bybel “maar net” ‘n menslike boek is en nie die Woord van God is nie.  Dit beteken bloot dat ons glo die Bybel is nie “meganies” geïnspireer nie, maar “organies”.  Dit wil sê God het die persoonlikheid, lewensomstandighede en konteks van elke Bybelskrywer gebruik en ingeweef in die Bybel.  Daarom kan ons so identifiseer met die mense in die Bybel en weet ons hulle beskryf hulle ervarings met God en dat dit vir ons soveel kan leer oor wie God is én wie ons as mense is.  Die menslikheid van die Bybelskrywers maak die Bybel nie minder van ‘n wonderwerk en minder “Woord van God” nie, maar eerder meer!

c)      Kom ons nou by Genesis, in die lig van (a) en (b) hierbo, is dit belangrik om nie vir Genesis as wetenskap te probeer lees nie.  Genesis is nie “in die begin” geskryf nie, met ander woorde is nie die ooggetuieverslag van iemand wat gesien het hoe God skep nie.  Genesis 1 het tot stand gekom in die ballingskaptyd, toe die Israeliete in Babilon gesit en toekyk het hoe die Babiloniërs met hulle afgodsbeelde in prosessies in die straat afstap vol bravade oor hoe sterk hulle gode is.  Die Babiloniërs het ook die hemelliggame (son, maan en sterre) aanbid.  Te midde hiervan kom lewer die Genesisskrywer(s) ‘n aangrypende getuienis wat aansluit by hoe hulle die heelal daardie tyd verstaan het.  Onthou, hulle het nie daardie tyd geweet dat die aarde rond is, dat dit om die son wentel en dat daar ook ander planete en sonnestelsels in ‘n uitdyende heelal is nie.  In hulle sogenaamde “drieverdieping” wêreldbeeld het hulle dit só verstaan:  voordat daar enigiets was, was alles water.  Maar toe die Gees van God oor die water sweef het Hy die “waters bo die aarde” geskei van die “waters onder die aarde”.  Hy’t ‘n tentdoek, ‘n “gewelf” gespan.  Dis asof God sy hande in die water ingesteek het, dit bak gemaak het en ‘n lugborrel geskep het waarbinne hy vir mens, plant en dier kom sê:  “Hier!  Dis vir julle!  Leef!  En dit in oorvloed!”  [Hulle sou opgekyk het na die blou hemel, asook gedink het aan die sluise van die hemel wat soms oopgaan sodat water daaruit reën en dit het hulle laat glo dat daar water “bo die aarde”, bokant die “gewelf” is.  Hulle het ook na die oseane gekyk en dit het hulle laat glo dat die water ook “onder die aarde” invloei.]  En toe het God die ligte opgehang aan die tentdak, teen die “gewelf” – die son, die maan, die sterre.  Hoor jy die getuienis daarin?  Dit wat deur die Babiloniërs aanbid is as gode, is nie gode nie!  Dis deur God geskape!  Dit dien Hom!  Hy is bo dit alles!  Hy is die ware God!

As ‘n mens die getuieniskarakter van hierdie skeppingsverhale verstaan (en ja, daar is meer as een – Gen 1 en Gen 2 is twee verskillende skeppingsverhale wat nie met mekaar heeltemal ooreenstem nie), dan is wetenskaplike vrae rondom Gen 1 en 2 doodgewoon onvanpas.  ‘n Vraag soos “ja, maar hoe het die plante gefotosinteer as die son dan nog nie geskep was nie?” is onvanpas.  So ook, kom ons nou by die oorspronklike vraag uit, of God in sewe dae van 24 uur elk geskep het.  Of dit 24 uur is, of dit sewe “tydperke” voorstel, of watter ander tydsinterpretasie mense ook al daaraan wil gee – dit is nie die punt van Gen 1 nie.  Dát God die Skepper is (“Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde”), dat Hy alles onderhou en in beheer van sy Skepping is, dat Hy sy Skepping “goed” vind en dit liefhet.  Dat Hy vir mens, plant en dier lewensruimte wil gee en hulle wil leer om in verhouding met Hom te lewe.  Dít is die boodskap van Gen 1 en verder.  Oor die hóé van die skepping en hóé die natuur inmekaarsteek – daar kan ons juis by die wetenskap gaan kers opsteek, sodat dit ons verwondering oor God se grootheid kan versterk (want dit is wat die effek van ware wetenskap behoort te wees).  As die hóé van God se skepping evolusie of ‘n groot knal insluit – hoe groot is God dat Hy dit ook só kon doen!